Ψ Egskeidinge

Standard

“Dit was ‘n paar dae voor my dertiende verjaarsdag toe hulle uiteindelik uitmekaar is. Ek is die enigste kind en my ma het een oggend net gesê ek moet begin inpak, ons gaan weg. Dis nou twaalf jaar later en nog moeilik om oor daardie tyd te gesels. Dis makliker om te vertel van die dag toe ek saam met twee van my tantes – albei van moederskant – buite die hofsaal gewag het vir die skeisaak om afgehandel te word”.

Hierdie is maar een van vele verhale, maar in al die verhale kom dieselfde gevoelens na vore, naamlik skuld-skaamte- en eensaamheidsgevoelens. Daar moet op gewys word dat die enkelouersituasie hoofsaaklik ontstaan as gevolg van egskeiding, die dood, verwydering of ongehude moederskap.

Wanneer ouers skei, hou dit noodwendig implikasies in vir kinders. So beweer Britse navorsers dat twee keer soveel kinders uit gebroke huise uiteindelik sielkundige probleme ontwikkel as kinders uit gelukkige huise. Voorts beweer hulle dat vier keer soveel seuns uit gebroke huise as ander seuns ly in hul twintigerjare aan maagsere en dat daar ‘n toenemende mate van aggressie, geweld en misdaad is wat by sulke kinders voorkom. Egskeiding het sielkundige effekte op die kind. So voel kinders byvoorbeeld verstote en alleen, tantrumgedrag kom na vore, asook die afknou van ander kinders.

Verhuising en verandering van skool speel ‘n belangrike rol wanneer ouers skei. Miskien moet daar na ‘n ander huis, woonstel of selfs na familie verhuis word. Dit gaan vir die kind anders voel, want dit is nou ‘n tuiste met net een ouer. Indien die kind van skool moet verander, word die goeie maats agtergelaat en nuwe verhoudings moet opgebou word met onderwysers en leerlinge. Die kind ondervind ‘n verandering in sy verhouding met sy ouers. Gewoonlik word ouers teen mekaar afgespeel en die kind wil nie kies tussen sy ouers nie. Gevolglik lei dit tot spanning by die kind en ‘n aantasting van sy gevoel van eiewaarde.

Kinders se emosionele veranderinge na egskeiding kan die volgende insluit:

– Aggressie en woede word ondervind: “Hoe kán julle dit aan my doen? Het julle my dan nie lief nie?”

– Skuldgevoelens: Die kind voel hy is op die een of ander manier verantwoordelik vir die egskeiding.

– Onbegrip: Die kind vra gewoonlik hoekom en verstaan nie waarom ouers wil skei nie.

– Ambivalensie: Die een oomblik ervaar die kind ‘n gevoel van woede, dan weer hartseer en dan weer ‘n oorweldigende liefde vir sy ouers.

– Verwerping: Die kind ervaar ‘n gevoel van dat niemand meer vir hom omgee nie.

– Andersheid: Vir sommige kinders is daar die gevoel van dat hy skielik anders is as gevolg van dit wat met sy gesin gebeur het. Mense behandel hom anders, sy maats en sy onderwysers kyk op ‘n ander manier na hom en sy omstandighede is skielik drasties anders.

– Verlies aan sekuriteit: Die kind voel bang en onveilig. “Wat gaan met my gebeur? Wie gaan na my omsien?”

– Bring onverskilligheid, traak-my-nie-agtige houding.

Niemand behoort ooit te skei nie, omdat daar huweliksterapie beskikbaar is.

Hierdie inligting is verskaf deur die Sielkundige Vereniging (Psychological Association of Namibia : PAN) en voorberei deur Hilda Lösch, Kliniese Sielkundige.

Telefoonnommers van Sielkundiges kan gevind word in die Telefoongids onder “Classified Medical Listings” Bladsy 9 6