Ψ ENURESE (BEDBENATTING)

Standard

Deur die eeue heen het die mensdom geworstel met die probleem van enurese. Die Egiptenare het reeds in 1550 v.C. enurese as ‘n mediese probleem geïdentifiseer. Ons weet egter vandag dat enurese, soos in die meeste gevalle van menslike gedrag, die oorsake veelvuldig en kompleks van aard is en dat die oorsake interafhanklik van mekaar is.

Talle skrywers is dit eens dat enurese ‘n gevaar inhou vir die psigiese en fisiese gesondheid van die mens en dat doeltreffende behandeling van die grootste belang is. Die verskille in die emosionele omstandighede waarbinne die kind ontwikkel, unieke persoonlikheidsamestelling, rypingstempo en nog vele ander faktore maak die behandeling van enurese soveel moeiliker.

Enurese is een van die algemeenste probleme onder kinders. Volgens navorsing is daar ongeveer drie miljoen seuns en dogters in Amerika tussen die ouderdomme van drie-en-‘n-half jaar tot sewentien jaar wat enurese ondervind. Enurese word gesien as ‘n onvermoë om urinepassering te onderdruk as dit in ‘n wakker- of slaaptoestand ondervind word.

Daar kan onderskei word tussen primêre, sekondêre en diurnale enurese.

Primêre enurese sluit al die gevalle in waar permanente droogheid nie sonder behandeling bereik sal word nie.

Sekondêre enurese kom voor as ‘n persoon droogheid aangeleer het, maar deur die inwerking van ander faktore weer blaasbeheer verloor.

Diurnale enurese dui op gevalle waar daar geen blaasbeheer gedurende die dag voorkom nie. Dit kom baie selde voor. Ondersoeke dui daarop, dat in teenstelling met nagtelike enurese, diurnale enurese meer voorkom by dogters as by seuns.

Uit die literatuur is dit duidelik dat daar nie altyd ‘n enkele spesifieke oorsaak vir enurese vasgestel kan word nie. Oorsaaklike faktore is gewoonlik meervoudig en interafhanklik van mekaar. Die gedagte bestaan dat enurese psigogenies van oorsprong is en dat dit daarom eerder as ‘n psigosomatiese kwaal as ‘n siekte beskou word.

‘n Indeling van organiese en nie-organiese oorsake kan gemaak word:

Organiese oorsake

Dit is die grondslag van slegs ‘n klein persentasie van alle enuretiese gevalle.

1. Oorerflikheid:

Die familieneiging van enurese is groter vir primêre as vir sekondêre enurese. Ongeveer 70% van alle enuretiese gevalle het ‘n gesinslid wat dieselfde probleem het of gehad het.

2. Vertraging in ryping:

Ryping is geneties bepaalbaar en kan nie deur omgewingsinvloede verhaas word nie, maar defekte ontwikkeling van die brein asook ‘n breinbesering kan ryping vertraag. Indien die kind ongeveer ‘n maand lank droogheid ervaar het, kan dit beteken dat ryping reeds volledig plaasgevind het.

3. Diep slaapgewoontes:

Daar is bevind dat 25 van 28 enuretiese gevalle diep slapers is.

4. Blaaskapasiteit:

Verskeie navorsers toon aan dat die blaaskapasiteit van enuretiese kinders oor die algemeen kleiner is as nie-enuretiese kinders.

5. Infeksie:

Daar is bevind dat infeksies van die urinestelsel algemeen vry onder enuretiese gevalle voorkom en dan veral by dogters.

6. Ander organiese oorsake:

Anatomiese defekte en hardlywigheid kan die blaaskapasiteit verminder.

Nie-organiese oorsake

1. Ondoeltreffende en foutiewe toiletopleiding

2. Emosionele faktore

3. Sosio-ekonomiese omstandighede

4. Persoonlikheidsfaktore

5. Traumatiese gebeure in vroeë kinderjare

6. Geslag en ouderdom

Hierdie inligting is verskaf deur die Sielkundige Vereniging (Psychological Association of Namibia : PAN) en voorberei deur Hilda Lösch, Kliniese Sielkundige.

Telefoonnommers van Sielkundiges kan gevind word in die Telefoongids onder “Classified Medical Listings” Bladsy 96.