Ψ Stres

Standard

Die term stres is oorspronklik afkomstig uit Fisika waar dit verwys na enige stremming, drukking, of krag wat op ‘n sisteem toegepas word, en is in 1926 deur Hans Selye in die gesondheidsveld bekend gestel. Hy het opgemerk dat individue wat aan ‘n verskeidenheid siektes gely het, ‘n konstellasie van gemeenskaplike simptome getoon het wat onder andere verlies aan eetlus, verminderde spierkrag, verhoogde bloeddruk en verlies aan ambisie ingesluit het. Selye definieer stres as die algemene respons van die liggaam op enige eis, hetsy geestelik of liggaamlik.

Plug, Meyer, Louw en Gouws definieer stres as: “Die liggaamlike en psigiese reaksies op onaangename stimuli soos lawaai en gevaar, asook interne stimuli soos langdurige angs, hewige emosie, bekommernis en spanning. Stres word in die algemeen gekenmerk deur hartkloppings, voortdurende moegheid, angs, spanning en gejaagdheid. Goldberger en Breznitz definieer stressore as eksterne gebeure of toestande wat die persoon affekteer.

“So intimately interwoven are mind and body that it has been said that there can be no psychological event without a resulting somatic (bodily) event, and no somatic event without a psychological event.”

Dit is belangrik om te besef dat stres nie slegs negatiewe eienskappe, soos gemanifesteer in fisiologiese-, sielkundige- en gedragsafwykings, tot gevolg het nie. Stres het ook ‘n positiewe aard, naamlik dat dit ‘n mens aktiveer/motiveer vir fisiese inspanning (soos om in sport te presteer). Navorsers noem dat ‘n stressor van persoon tot persoon sal verskil. Wat persoon A as stresvol beskou, is nie noodwendig vir persoon B stresvol nie.

Hulle skryf die verskil in die waarneming van stressituasies aan drie faktore toe:

• Waarneming van bedreiging

Indien die situasie as bedreigend beskou word, en die individu glo dat hy oor gebrekkige vaardighede beskik om die situasie die hoof te bied, is dit ‘n hoë stressituasie.

• Stres-tolleransie

Indien ‘n persoon nie goed aangepas is nie, kan die geringste frustrasie of eis in ‘n hoë stressituasie ontaard.

• Eksterne bronne en sosiale ondersteuning

Daar is heelwat bewyse dat positiewe sosiale- en gesinsverhoudings die effek van stres kan verminder en meer gematig kan maak, en sodoende siekte en sterftes kan verminder.

Onlangse studies dui daarop dat die onderstaande die mees algemene stresverwante siektes is:

Spysverteringstelsel

• Peptiese ulkus.

Sere in die maag en dermkanaal word veroorsaak deur oormatige afskeiding van pepsien tydens die stresrespons.

• Kolitis (dikdermontsteking).

Kardiovaskulêre probleme

• Hipertensie (hoë bloeddruk). Oorsake vir hipertensie kan slegs in ongeveer tien pesent van die gevalle gevind word.

• Skeelhoofpyne (migraine).
http://psychologynamibia.org/wp-includes/js/tinymce/plugins/wordpress/img/trans.gif
Die kardiovaskulêre sisteem is die primêre teiken van die stresrespons.

Respiratoriese probleme

• Allergieë. Allergieë kom dikwels in stresvolle situasies voor.

• Brongiale asma.

• Hiperventilasie.

Skeletstelsel

• Lae rugpyn.

• Spanningshoofpyne.

• Reumatiese artritis (gewrigsontsteking).

Velprobleme

• Ekseem.

• Aknee.

• Urtikaria (galbulte).

• Psoriase.

Die immuniteitstelsel

Navorsing bied indrukwekkende oorsigte aan ter ondersteuning van die feit dat oormatige stres ‘n algemeen onderdrukkende effek op die immuniteitstelsel kan uitoefen. Stres kan dus benewens psigosomatiese siektes ook aanleiding gee tot aansteeklike en degeneratiewe siektes.

Sielkundige manifestasies van die stresrespons:

• Angs.

• Maniese gedragspatrone.

• Insomnie (slaaploosheid).

• Depressie

Daar word tussen die tipe A- en die tipe -gedragspatroon onderskei. Die tipe A-persoon word gekenmerk deur selfopgelegte tydsgrense, ‘n intense begeerte vir erkenning, psigiese en liggaamlike wakkerheid en vlugheid en sterk selfgedrewenheid. Die tipe B-persoon word gekenmerk deur psigiese en liggaamlike rustigheid. Vroegtydige behandeling van stres is ‘n noodsaaklikheid.

Hierdie inligting is verskaf deur die Sielkundige Vereniging (Psychological Association of Namibia : PAN) en voorberei deur Hilda Lösch, Kliniese Sielkundige.